SAMEL DIE OES IN

Skriflesing: Johannes 4:27-42

Teks: Joh 4:34-42

 Dam of fontein

Verlede week het ons gepraat oor Joh 4:13-14 waar Jesus sê die water wat Hy ons sal gee, sal in ons ‘n fontein word met water wat opborrel en aan ons die ewige lewe gee.  As ons Jesus as ons Verlosser aanneem, onvang ons die ewige lewe en hierdie ewige lewe kan ons nie vir onsself hou nie. Ons kan nie soos ‘n dam wees wat water opgaar nie, ons word ‘n fontein wat water verskaf. 

Hierdie verse is ‘n samevatting van wat Jesus op aarde kom doen het.  Dit onderskei ook die verskil tussen dit wat God deur Jesus kom doen en ons rol as dissipels.  In sy gesprek met die dissipels nadat die vrou terug is dorp toe om haar man te gaan roep, sê Hy hulle moet die oes insamel, hulle hoef nie die saad te saai nie.  Gelowiges dink baie keer hulle moet die saad saai, en omdat dit so moeilik is, gee hulle moed op en versuim hulle roeping om dissipels van Jesus te wees elke dag.  Hierdie opdrag van Jesus stel dit weer baie duidelik, God saai die saad, sy volgelinge samel die oes in. 

Joh 4: Jesus saai, die dissipels oes

In Jesus se gesprek met die vrou by die put is dit baie duidelik. Hy doen die oortuigingswerk.  Hy neem die gesprek na ‘n geestelike vlak en bied vir haar lewende water aan.  Hy openbaar Homself aan haar deur haar persoonlike lewe aan haar uit te lê.  Hy hanteer die godsdienstige verskille tussen die Jode en die Samaritane. Hy openbaar Homself aan haar as die Messias.  Eers dan kom die dissipels terug van die dorp af, nadat Jesus klaar “die saad gesaai het”.  Terwyl die vrou weg is dorp toe om haar man te gaan haal, gee Jesus aan hulle die opdrag om die oes in te samel. Hulle hoef nie die werk van God te probeer doen nie, hulle kan net hulle eie werk doen en die oes insamel. 

Daar is ‘n baie groot verskil tussen saai en oes.  Jy gebruik ander implimente, jy kan nie met ‘n ploeg ‘n koringland gaan stroop nie.  Jy gebruik ‘n sekel of ‘n stroper. Baie keer sê ons dissipelskap is moeilik, want ons verstaan ons rol verkeerd. 

Jesus saai, die dissipels oes

Ons lees dieselfde oprdag in Matt 9:35-38 waar Jesus die menigte sien, hulle innig jammer kry en vir sy dissipels sê “die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders uit te stuur vir sy oes”.   

In Matt 10:5-8 sê Jesus ook die dissipels moet gaan verkondig: “Die koninkryk van die hemel het naby gekom. Maak siekes gesond, ….”. Die dissipels se opdrag is gebaseer op dit wat God klaar kom doen het deur die koninkryk van God te laat aanbreek.

In die Ou Testament saai God ook

In Josua 24:13 sê God ook aan Israel “Ek het julle ‘n land gegee wat julle nie bewerk het nie, stede wat julle nie gebou het nie…julle eet van wingerde en olyfbome wat julle nie geplant het nie”. En in vers 24 “Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en trou. Sien af van die gode ….”.  God het gesaai deur aan hulle ‘n land te gee wat hulle nie bewerk het nie. Al wat Israel moes doen, is om aan Hom gehoorsaam te wees en so die “oes” in te bring.      

Na Pinkster saai die Heilige Gees

In Handelinge 8 sien ons hoe Filippus die oes gaan insamel in Samaria.  Jesus sê vir sy dissipels in Hand 1:8 hulle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor hulle kom en hulle sal sy getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. Ons is slegs die getuies van wat Jesus klaar gedoen het.  Hier gaan Filippus juis na Samaria, die eerste plek buite die Joodse gebied, soos wat Jesus ook gedoen het in Johannes 4.  Al wat Filippus doen, is om te doen wat Jesus gedoen het, in die krag wat die Heilige Gees aan hom gegee het. Hy verkondig Christus, dryf bose geeste uit, genees verlamdes en kreupeles. Dit het groot blydskap in die stad gebring.

Om te oes is maklik

 God verwag nie dat ons Sy werk moet doen nie. Hy sluit ons in by wat Hy klaar gedoen het en by dit waarmee Hy besig is.

Dissipelskap is om God toe te laat om Sy werk in jou lewe te doen, sodat jy ander kan vertel hoe dit is.  Die werk wat Hy in jou doen, maak jou ‘n fontein van lewende water wat opborrel en aan ander dieselfde water verskaf.  Dit is in die wese van ‘n fontein om water te verskaf.  As ons egter aan onsself dink as ‘n dam, is dit baie moeilik om die oes in te samel. 

Kweek by jouself die bewustheid dat jy ‘n fontein is.

Kweek by jouself die bewustheid dat jy die oes moet insamel.  Dit is waarvoor God jou geroep het.

Wat is daar in jou lewe wat jy nog nie aan die Heilige Gees oorgegee het nie?

Wat probeer jy nog in jou eie krag vermag? 

AMEN

Continue Reading

Lewende water Skriflesing: Johannes 4:1-24

Inleiding
Jesus is besig om die roeping van sy Vader uit te voer en in die proses leer Hy ons wat dissipelskap is. Hy leer ons dat dissipels nie ‘n ander roeping as Hy het nie. Dissipels moet net voortsit wat hy kom doen het.
Ons vra dikwels: “Wat is God se roeping vir my?” Dit is ‘n eenvoudige antwoord. Ons soek gewoonlik baie ingewikkelde antwoorde, en verwar onsself net daardeur. Jesus se lering is eenvoudig. As ons Hom aanneem as ons Verlosser, word ons ‘n fontein van water wat opborrel tot die ewige lewe. Ons kan nie soos ‘n dam bly wat net water opgaar nie, deur die wedergeboorte maak God ons ‘n fontein wat water van die ewige lewe voortbring.
Wat kom Jesus doen?
Joh 4:13-14 is ‘n samevatting van wat Jesus kom doen op aarde. Wie Hom aanneem, ontvang die ewige lewe. Wie Hom aanneem, verander van ‘n dam na ‘n fontein deur die wedergeboorte [regeneration] wat God deur sy Gees in jou bewerk. Dit is waarvan Joh 1:13 praat. God se vaderskap beteken dat ons nie meer deur ons menslike natuur beheer word nie, maar deur die Heilige Gees [Rom 8:11].
Wedergeboorte [regeneration]
Jesus verduidelik die wedergeboorte aan Nikodemus in Joh 3:1-21.
Petrus verduidelik dit ook soos volg: 1 Pet 1:3 – “Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het, sodat ons ‘n lewende hoop mag hê” [2014 Direkte vertaling].
Ook in Titus kry ons ‘n mooi beskrywing van die wedergeboorte: Titus 3:5-6 – “Hy het ons verlos – nie op grond van werke wat ons uit geregtigheid gedoen het nie, maar op grond van sy ontferming – deur die afwassing van die wedergeboorte en vernuwing deur die Heilige Gees, wat hy ryklik oor ons uitgegiet het deur Jesus Christus, ons Verlosser” [2014 Direkte vertaling].
Fonteine
In die gesprek met die vrou, stuur Jesus haar om haar man te gaan haal. Sodra jy die boodskap ontvang, dat Jesus die Verlosser is, mag jy dit nie vir jouself hou nie. Jy moet dit gaan vertel, al weet jy nog baie min, want jy mag nie ‘n dam wees nie. Jy is ‘n fontein wat water van die ewige lewe verskaf, jy gaar niks op vir jouself nie.
Jesus se ekonomie is, sodra jy die Evangelie-boodskap ontvang het, moet jy dit gaan oorvertel. Net wat jy gehoor en ervaar het. Jy hoef niks meer te doen nie. In vers 29 lees ons dat die vrou in die dorp gaan oorvertel wat met haar by die put gebeur het, al is sy self nie eers seker van wie is die man wat met haar gepraat het nie. Die belangrike is dat sy gaan vertel het.
Hoe word dissipels fonteine?
Ons sien hoe Jesus dit doen in Joh 1:35-51.
 Johannes die Doper getuig: “Daar is die Lam van God”
 Andreas en nog ‘n dissipel van Johannes volg Jesus
 Andreas gaan roep sy broer, Simon Petrus
 Jesus spreek profeties oor Petrus se lewe, sodat hy kan sien dat Jesus die Messias is
 Jesus roep vir Filippus
 Filippus getuig teenoor Natanael
 Natanael twyfel, Jesus spreek profeties oor Natanael, sodat hy kan sien dat Jesus die Messias is.
Die dissipels gaan vertel ander en Jesus doen die oortuigingswerk. Dit is die patroon van Jesus se ekonomie.
Is jy ‘n fontein?
Jy hoef nie alles te weet nie, jy getuig net oor wat jy weet en ervaar het. Baie van die Samaritane het tot geloof in Jesus gekom oor wat die vrou van Jesus vertel het.
Dit gaan nie oor wat jy van Jesus weet nie, maar oor die lewensverandering wat jou ontmoeting met Jesus in jou lewe veroorsaak het.
Jesus roep eenvoudige vissermanne en maak hulle fonteine van lewende water. Ek en jy kan niks doen om ‘n fontein te word nie, God het dit klaar gedoen met die wedergeboorte toe jy jou lewe vir Hom gegee het. Ons moet net gehoorsaam wees en nie die fontein se water laat wegvloei nie. Dit moet mense se lewens bereik.
Doen jy dit?
AMEN

Continue Reading

Geloof is ‘n Verhouding Skriflesings: Gen 1:26-28 en Kol 2:9-10

Inleiding

Waaruit bestaan jou geloof, jou lewe saam met God?

So baie mense wil dit ‘n wetenskap maak.  As ek nie die bestaan van God en die skepping  logies kan verklaar nie, glo ek nie.  Ander mense wil geloof ‘n godsiens maak. Vir hulle is geloof ‘n wet of godsdienstige reëls wat nagekom moet word.  Hulle kies ‘n teologie en dan moet God en mense in daardie raamwerk inpas.

Van die begin af, sê die Bybel, is geloof ‘n verhouding.  Die skeppingsverhaal is die verhaal van God se verhouding met die mens.  God skep nie net die mens soos Hy die ander wesens geskep het nie; met die skepping van die mens bring God ‘n verhouding tussen Hom en die mens tot stand.

Continue Reading

Liefde maak vry

Skriflesing: Joh 20:26-31 en 21:15-19

Inleiding

Ons is in die seisoen van menswaardigheid. 

Wat gee aan my lewe waarde?   Hoe gee ek aan ander mense se lewens waarde? 

Twee dinge gee waarde aan ons lewens: liefde en vryheid. 

Jesus se opstanding uit die dood is God se waarborg dat Hy ons liefhet en ons wil bevry van alles wat ons menswaardigheid van ons wegneem. Alles wat verhinder dat ons tot ons volle reg kan kom.  Deur Jesus se dood aan die kruis en sy opstanding uit die graf, maak God dit vir ons moontlik om te word wie Hy wil hê ons moet wees. 

Jesus se liefde maak ons vry.  Vryheid gee waarde aan mense se lewens. 

In Joh 20 en 21 lees ons van Jesus se verskynings aan sy volgelinge voor sy hemelvaart.  Met hierdie verskynings kom herstel Jesus die verhouding tussen hulle, sodat sy volgelinge  gereed is om die Heilige Gees te ontvang.  Ons kyk hoe dit plaasvind in Tomas en Petrus se lewens.

Continue Reading

Genade Transformeer

Skriflesings:  2 Kor 1:19-22 en Efes 1:14

Inleiding

Ons is ANDERS geskape deur God, maar in Christus word anderses EENDERS, deur Sy genade.

Wat maak ons Eenders?  Die feit dat ons in Christus is.  Om in Christus  te wees, beteken dat ons nie meer vanuit ons menslike vlees leef nie, maar vanuit die nuwe identiteit wat ons in Christus ontvang het, soos Rom 8:9 sê: ons word nie meer deur die sondige natuur beheer nie, maar deur die Gees.

Ek definieer nie meer myself vanuit my gebroke menslikheid nie, want ek is ‘n nuwe mens [2 Kor 5:17].

Paulus sê hy beroem hom nie meer op die uiterlike dinge nie [Kol 3:3], inteendeel, wat vir hom ‘n bate was, beskou hy nou as waardeloos ter wille van Christus [Kol 3:7]. Ek het alles prysgegee en beskou dit as verwerplik, sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees [Kol 3:8,9].

Dit is wat anderses eenders maak.  Solank ons onsself nog definieër vanuit ons kulturele identiteit, sosiale identiteit, my prestasies, persoonlikheid, geaardheid of enige ander vorm van die menslike natuur, beklemtoon ons die andersheid meer as die eendersheid.

God kyk na ons deur die soendood van Jesus, en daarom is ons eenders voor God.  Dit is hoe ons na onsself en na ander mense moet kyk.

Hoe kry ons dit reg?  Natuurlik net deur die genade van God.

Genade

Wat is genade?

“Grace is God’s goodness showered on people who have failed”

“Grace is someone at the end of their rope finding new strength”

Genade is God se “Ja” aan ons in Christus – 2 Kor 1:19-22

Ons is vir Hom afgesonder

Ons is as sy eiendom beseël

Genade is God se “Ja” aan ons deur die Heilige Gees – Efes 1:14

Die waarborg vir wat ons nog sal ontvang.

Genade Transformeer

God se genade transformeer my van die persoon wat ek was voordat ek Jesus as Verlosser aangeneem het tot die persoon wat God in gedagte het ek moet wees in Christus en deur die Heilige Gees.  Dit is die wedergeboorte waarvan Jesus vir Nikodemus ook vertel.  God doen dit in elk geval.

Deur die genade van God het Paulus se lewe verander van ‘n Farisieër en vervolger van die gelowiges tot ‘n apostel van Jesus Christus [Gal 1:15-16].

Deur die genade van God gee die Heilige Gees aan ons genadegawes, sodat ons kan wees wat God wil hê ons moet wees.

Deur die genade van God ontvang ons ‘n nuwe identiteit, daarom sê Paulus: Deur die genade is ek wat ek is [1 Kor 15:10].

Die Woord is dus duidelik: God se genade transformeer my lewe, God maak my ‘n nuwe mens as ek Jesus as Verlosser aangeneem het.  God het sy werk klaar gedoen en Hy het ook nie halwe werk gedoen nie.  Nou wag Hy vir jou om uit te tree uit die ou mens en in te tree in die nuwe mens.

Die vraag is:  In watter identiteit leef ek?  My ou identiteit of die nuwe identiteit.  Dit is die grootste uitdaging vir gelowiges, want dit bepaal of die genade van God tot werking kom in my lewe of nie.  Hoe langer ek aan my ou menslike natuur vasklou, hoe mider kan die genade van God in werking kom in my lewe.

Paulus sê: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my die krag gee” [Fil 4:13].  Hy kon ook nie van die Farisieër en vervolger verander tot die apostel, sonder die krag van Christus in hom nie.  Dit is ook net die genade van God wat dit vir my en jou moontlik maak om daardie stap te neem.

Dit is wat die hele Christelike gemeenskap moet doen – die kerkraad, die ring, die sinode, die algemene sinode, want eers dan is ons ‘n “grace-creating fellowship”.

Grace – creating fellowship

Scott McNight sê die kerk moet ‘n “grace-creating fellowship” wees.

Die verhaal van die genadige Vader en die verlore seun van Lukas 15 verduidelik presies vir ons wat God se genade beteken.

Dit is nie goed genoeg om die genade van God te ontvang nie, want God se genade kan nie by ons stop nie.  Dit is bedoel var diegene wat nie God se genade ken nie.  God se genade is nooit ‘n besitting nie, dit is ‘n geskenk wat uitgedeel moet word.

In watter mate is jy ‘n uitdeler van God se genade?

In watter mate is die gemeente ‘n uitdeler van God se genade?

Sodat mense hulle nuwe identiteit in Christus deur die werking van die Heilige Gees kan ontdek.

AMEN

Continue Reading

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.

  • Avatar

    Jan Knoetze

    |

    Hierdie boodskap het my vanoggend weer hoop gegee. Ek het reeds besluit om op te gee met my roeping, nou vra ek weer die vraag; waar wil ons Here my hê? Dankie en God bless.