Esegiël 37 Droë Bene, Hoop en Advent

Hoop en Verwagting

Ons vier tans Advent.  Die tyd voor Kersfees.  Dis ’n tyd van refleksie, afwagting, verwagting, hoop.  Die vier Sondae van Advent het gewoonlik vier temas:  hoop, vrede, vreugde en liefde.  Vanjaar fokus ons elke Sondag op dieselfde tema:  hoop.

Daarom het Kobus verlede week begin in die kokende vuuroond van Daniël.  Vandag klim ons uit die vuuroond in die vallei van droë bene.

Want sien, hoop is nie ’n maklike of idealistiese suikerlagie bo-oor ons stukkende realiteit nie.  Ware hoop vat ons op reis na ’n paar uitdagende plekke.  Dit stap verby die vrolikheid van “Sleigh Bells Ringing in the Snow”, na die diep vreugde van Kersfees, van God met ons.

Hoop is ’n geskenk.  En hoop is werk.

Hoop kan twee goed gelyk doen.  Dit berei voor vir Kersfees, vir die koms van Christus.  Maar dit sien ook oral langs die pad die teenwoordigheid van Christus, hier en nou.

Ek wil jou regtig nooi om nie vanjaar dadelik te spring na die trifle en blinkertjies van Kersfees nie.  Daardie goed het ’n plek en dis goed.  Maar bly ook vir ’n paar oomblikke in die skaduwees.  In die stilte.  In die valleie.  Staan saam met my stil.  Kyk.  Kom ons soek hoop.

Continue Reading

Immanuel, God is by ons.

God is wie Hy is, daarom is ek wie ek is

Skriflesing: Daniël 3:1; 8-30
AGTERGROND
Vandag is die eerste Sondag van Advent. Ons gaan tot einde Desember praat oor hoop. Wat gee vir ons hoop? Vandag kyk ons na die vraag: Waar begin hoop?

INLEIDING
Die engel sê vir Maria, noem die kindjie Immanuel, want God is met ons. Is God met ons?
Ongelowiges se maklike antwoord is nee, God is nie by ons nie.
Baie gelowiges se maklike antwoord is nee, God is nie by ons nie, want kyk al die ellende en geweld in die wêreld.

WAAR IS GOD?
Met Kersfees vra mense weer: Waar is God? Die sprokiesverhaal van die geboorte van Jesus wat ek as kind geglo het, het saam met die harde werklikheid van die lewe verdwyn.
Die rede waarom ons hierdie soort vraee vra, is omdat ons vir onsself ‘n lewe skep waarin ons vasgevang geraak, ‘n lewe van self-verheerliking en self-onderhouding sodat ons nie meer glo dat God by ons is nie. Ons baseer nie meer ons lewe op die paradys-lewe waarvoor God die mensdom geskep het nie; ons baseer ons lewe op die lewe buite die paradys [Genesis 3] asof dit die enigste werklikheid is.
Die geboorte van Jesus herinner ons aan die paradys-lewe waarvoor God ons geskep het, ‘n lewe waar daar volkome harmonie met God en ons medemens is, ‘n lewe waar ons nooit sou sterf nie [Genesis 3:22].

GOD IS IN DIE VUUROOND
In Daniël 3:25 sê Nebukadneser “Ons sien dan vier manne vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ‘n hemelwese!”. God het nie agtergebly in die tuin van Eden, toe Adam en Eva daar moes uitgaan nie, Hy het saam met hulle gegaan.
God is saam met die drie manne in die vuuroond, so herkenbaar dat selfs Nebukadneser hom herken as ‘n hemelwese. Ons maak onsself dikwels wys dat God nie in die ‘vuuroonde’ van die lewe by ons is nie, want ons verwag Hom nie daar nie. Hier leer ons dat God juis in die vuuroonde van die lewe met ons is.
Meer nog, Nebukadneser roep die drie manne uit die vuuroond en daar kom hulle aangestap na hom toe.

DAAR IS GEEN ANDER GOD WAT SO RED NIE
Uit dit wat voor Nebukadneser se oë afspeel begin hy getuig oor die almag van die God van Gananja, Misael en Asarja en van hulle geloof.
God is wie Hy is, …
God openbaar Homself aan die ongelwige koning van Babilon op so ‘n oortuigende manier dat Nebukadneser nie anders kan as om in ‘geloofstaal’ oor God te praat nie.
Ons hoef nie mense te oortuig wie God is nie, Hy openbaar Homself. Ons kan net met die geloof van Gananja, Misael en Asarja in die geloof leef.
… daarom is ek wie ek is.
Hierdie drie manne het op God vertrou [v28], selfs al red Hy hulle nie uit die brandende vuuroond nie [v18]. Hoewel hulle in ‘n vreemde land was en deur Nebukadneser geïndoktrineer was, het hulle nie hulle identiteit vergeet nie, want hulle name het hulle herinner dat God met hulle is:
Hananja se naam beteken: God is genadig.
Misael se naam beteken: Wie is soos God?
Asarja se naam beteken: God bewaar jou.
Aangesien hulle onthou het dat God hulle geskep het vir die lewe binne-in die paradys, het hulle daaraan vasgehou, selfs toe hulle voor die deur van die vuuroond gestaan het. Die mens-gemaakte lewe wat Nebukadneser op hulle wou afdwing, was nie sterker as hulle verhouding met God nie – die lewe binne die paradys.

HEMEL OP AARDE
In Matteus 6:13 leer Jesus ons bid: “Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”. Met die geboorte van Jesus, maak God dit hemel op aarde. Dit word hemel op aarde waar God se Naam geheilig word, waar sy Koningskap bely word en waar sy wil eerbiedig word – of dit nou in die vuuroond is en of dit in die paradys is. Vir Hananja, Misael en Asarja was dit hemel op aarde binne-in die vuuroond.
Vir ons wat glo gaan dit nie oor waar ons is nie, maar of ons God toelaat en innooi om met ons te wees.
God wil juis op plekke wees waar niemand Hom verwag nie, want Hy kan die mees onwaarskynlike plek op aarde in hemel verander.

IMMANUEL, GOD IS BY ONS
As gelowiges met dieselfde oortuiging leef as hierdie drie manne, sal God homself aan die ongelowige wêreld openbaar, soos net Hy Homself kan openbaar. Dink net wat kan gebeur as elkeen wat die Naam van Jesus bely, vandag in SA sal sê: “Ons God vir wie ons dien het die mag om ons te red uit enige ‘vuuroond’ wat mag bestaan. Selfs al doen Hy dit nie, sal ons Hom nog steeds dien” [Daniël 3:17-18].
Hananja, Misael en Asarja het geglo, omdat hulle vantevore reeds ontdek het God is met hulle. Elkeen van ons het ook sulke ervaringe.
Dink net wat sal in ons land gebeur as gelowiges tydens hierdie Kersgety begin vertel dat God by hulle is, selfs ook in die ‘vuuroonde’ van die lewe.

WAAR IS JY?
Hou jy jouself meer besig met die vuuroonde in jou lewe, of is jy meer besig met God wat saam met jou in die vuuroond is? Daniël 3 leer ons dat die warmste vuuroond ‘n plek kan wees waar jy ongedeerd kan lewe [v25]. Die vuur sal jou niks doen nie, jou hare sal nie eers skroei nie, jou klere sal nie brand nie, jy sal nie eers na vuur ruik nie.
Dit gee ons hoop.
AMEN

Continue Reading

Geroep en gestuur – 1 Petrus 2:1-17

Waaroor gaan dit in die geestelike lewe?  Petrus spel vir ons drie sirkels van geestelike groei uit in die teks wat ons gelees het:

  1. Ons is geroep om geestelik te groei deur die Woord. Dit is ‘n baie persoonlike roeping.  Die eerste sirkel van geestelike groei.  En dit het met die Woord te make, die “suiwer melk van die Woord”.  Dit is wat Petrus in hfst. 2:1-3 sê.
  2. Ons is geroep om opgebou te word as ‘n geestelike huis vir die Here. Die tweede sirkel van geestelike groei.  In ons erediens bring ons geestelike offers aan die Here.  En dit is iets wat jy nie op jou eie kan doen nie.  Jy moet ‘n “lewende steen” in die gebou van God word.  Dit is wat Petrus in hfst. 2:4-10 sê.
  3. Ons is gestuur om goed te doen in die gemeenskap. Dit is wat Petrus in hfst. 2:11-17 sê.  Dit is eweneens iets wat ons nie alleen kan doen nie.  Ons het mekaar nodig om ‘n impak in die wêreld te maak. “No man is an island!” (John Donne)

Petrus sal verder aan nog twee ander sirkels van geestelike groei uitlig, ons arbeidsverhoudinge en die huwelik en gesinslewe.  Daar is vyf in totaal.  Maar, ek gaan vandag net op hierdie derde een van die sirkels van geestelike groei fokus.  Jy kan by die huis sorg dat jy ook na die ander kyk.

English.docxAfrikaans.pdf; 1 Petrus 2 teks met verwysings.pdf

Hier volg die hele erediens:

Continue Reading

Sola Scriptura – Alleen die Skrif

Ek dink min van ons weet vandag presies hoe ‘n radikale idee die belydenis Sola Scriptura was en is.

Die radikaliteit lê natuurlik alreeds in die taal.  Sola beteken Alleen.  In kombinasie met Scriptura beteken Sola Scriptura daar is niks, en daar mag niks langsaan of bo-oor die Skrif wees nie.  Sola Scriptura sê daar is nie ‘n hoër gesag as die Skrif, en die Skrif Alleen nie.  En onthou, Scriptura beteken die Skrif, die geskrewe Woord van God.  Scriptura beteken dus die Bybel in al sy onderdele sowel as in sy geheel.

As jy dus sê Sola Scriptura beteken dit dat jy akkoord gaan dat ‘n mens die Bybel alléén gebruik om God se wil uit te lê. Dit is wat die taal sê.  Sola Scriptura is nie prima Scriptura nie. D.w.s., ek lees nie eers die Bybel en dan ook ander menings oor wat vir leer en lewe belangrik is nie, soos sommige teoloë dit vandag doen nie (Scott McKnight bv.).  Ek lees nét die Skrif om agter te kom wat God wil of wat Hy nie wil nie.

Hier volg die hele erediens:

Continue Reading

Vreugdevol Vry! Meer as genoeg… net Jesus

As jy aan Jesus dink, wat is die prentjie wat jy in jou gedagtes sien?  Die verlosser aan die kruis?  Dalk ’n prentjie uit klassieke kuns, of ’n meer onlangse uitbeelding soos uit The Passion of the Christ?  Of dink jy aan die oorwinnaar, die opstanding, aan Christus wat heers aan die regterhand van God?  Of dink jy aan die Man wat op aarde geleef het, saam met dissipels gereis, mense genees en geleer het?  Was Hy nors en kwaai, of vriendelik en uitbundig? Hartseer?  Tussen-in?  Is die prentjie in jou gedagtes ’n blou-oog Jesus met ligte hare?  Of ’n Midde-Oosterse man met ’n blas vel en ’n welige donker baard?

Hierdie vrae maak ons dalk effens ongemaklik, ons voel dis disrespekvol.  Tog is dit belangrik, want ons prent van Jesus is ons prent van God.  Die prentjie in ons gedagtes beïnvloed wie ons dink God is, wat ons dink God doen.  Uiteindelik beïnvloed dit ook ons optrede.

Continue Reading

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marie Albertyn

    |

    Goeie Middag
    Ek sien u het verlede jaar verblyf gesoek vir u seun. As u van nog seuns weet, ek het n baie lekker kamer met kombuis en badkamer vir n seun.
    Tel.: 041-5831173 of 0842513492

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.