Immanuel, God is by ons.

God is wie Hy is, daarom is ek wie ek is

Skriflesing: Daniël 3:1; 8-30
AGTERGROND
Vandag is die eerste Sondag van Advent. Ons gaan tot einde Desember praat oor hoop. Wat gee vir ons hoop? Vandag kyk ons na die vraag: Waar begin hoop?

INLEIDING
Die engel sê vir Maria, noem die kindjie Immanuel, want God is met ons. Is God met ons?
Ongelowiges se maklike antwoord is nee, God is nie by ons nie.
Baie gelowiges se maklike antwoord is nee, God is nie by ons nie, want kyk al die ellende en geweld in die wêreld.

WAAR IS GOD?
Met Kersfees vra mense weer: Waar is God? Die sprokiesverhaal van die geboorte van Jesus wat ek as kind geglo het, het saam met die harde werklikheid van die lewe verdwyn.
Die rede waarom ons hierdie soort vraee vra, is omdat ons vir onsself ‘n lewe skep waarin ons vasgevang geraak, ‘n lewe van self-verheerliking en self-onderhouding sodat ons nie meer glo dat God by ons is nie. Ons baseer nie meer ons lewe op die paradys-lewe waarvoor God die mensdom geskep het nie; ons baseer ons lewe op die lewe buite die paradys [Genesis 3] asof dit die enigste werklikheid is.
Die geboorte van Jesus herinner ons aan die paradys-lewe waarvoor God ons geskep het, ‘n lewe waar daar volkome harmonie met God en ons medemens is, ‘n lewe waar ons nooit sou sterf nie [Genesis 3:22].

GOD IS IN DIE VUUROOND
In Daniël 3:25 sê Nebukadneser “Ons sien dan vier manne vry en ongedeerd rondbeweeg in die vuur, en die vierde lyk soos ‘n hemelwese!”. God het nie agtergebly in die tuin van Eden, toe Adam en Eva daar moes uitgaan nie, Hy het saam met hulle gegaan.
God is saam met die drie manne in die vuuroond, so herkenbaar dat selfs Nebukadneser hom herken as ‘n hemelwese. Ons maak onsself dikwels wys dat God nie in die ‘vuuroonde’ van die lewe by ons is nie, want ons verwag Hom nie daar nie. Hier leer ons dat God juis in die vuuroonde van die lewe met ons is.
Meer nog, Nebukadneser roep die drie manne uit die vuuroond en daar kom hulle aangestap na hom toe.

DAAR IS GEEN ANDER GOD WAT SO RED NIE
Uit dit wat voor Nebukadneser se oë afspeel begin hy getuig oor die almag van die God van Gananja, Misael en Asarja en van hulle geloof.
God is wie Hy is, …
God openbaar Homself aan die ongelwige koning van Babilon op so ‘n oortuigende manier dat Nebukadneser nie anders kan as om in ‘geloofstaal’ oor God te praat nie.
Ons hoef nie mense te oortuig wie God is nie, Hy openbaar Homself. Ons kan net met die geloof van Gananja, Misael en Asarja in die geloof leef.
… daarom is ek wie ek is.
Hierdie drie manne het op God vertrou [v28], selfs al red Hy hulle nie uit die brandende vuuroond nie [v18]. Hoewel hulle in ‘n vreemde land was en deur Nebukadneser geïndoktrineer was, het hulle nie hulle identiteit vergeet nie, want hulle name het hulle herinner dat God met hulle is:
Hananja se naam beteken: God is genadig.
Misael se naam beteken: Wie is soos God?
Asarja se naam beteken: God bewaar jou.
Aangesien hulle onthou het dat God hulle geskep het vir die lewe binne-in die paradys, het hulle daaraan vasgehou, selfs toe hulle voor die deur van die vuuroond gestaan het. Die mens-gemaakte lewe wat Nebukadneser op hulle wou afdwing, was nie sterker as hulle verhouding met God nie – die lewe binne die paradys.

HEMEL OP AARDE
In Matteus 6:13 leer Jesus ons bid: “Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”. Met die geboorte van Jesus, maak God dit hemel op aarde. Dit word hemel op aarde waar God se Naam geheilig word, waar sy Koningskap bely word en waar sy wil eerbiedig word – of dit nou in die vuuroond is en of dit in die paradys is. Vir Hananja, Misael en Asarja was dit hemel op aarde binne-in die vuuroond.
Vir ons wat glo gaan dit nie oor waar ons is nie, maar of ons God toelaat en innooi om met ons te wees.
God wil juis op plekke wees waar niemand Hom verwag nie, want Hy kan die mees onwaarskynlike plek op aarde in hemel verander.

IMMANUEL, GOD IS BY ONS
As gelowiges met dieselfde oortuiging leef as hierdie drie manne, sal God homself aan die ongelowige wêreld openbaar, soos net Hy Homself kan openbaar. Dink net wat kan gebeur as elkeen wat die Naam van Jesus bely, vandag in SA sal sê: “Ons God vir wie ons dien het die mag om ons te red uit enige ‘vuuroond’ wat mag bestaan. Selfs al doen Hy dit nie, sal ons Hom nog steeds dien” [Daniël 3:17-18].
Hananja, Misael en Asarja het geglo, omdat hulle vantevore reeds ontdek het God is met hulle. Elkeen van ons het ook sulke ervaringe.
Dink net wat sal in ons land gebeur as gelowiges tydens hierdie Kersgety begin vertel dat God by hulle is, selfs ook in die ‘vuuroonde’ van die lewe.

WAAR IS JY?
Hou jy jouself meer besig met die vuuroonde in jou lewe, of is jy meer besig met God wat saam met jou in die vuuroond is? Daniël 3 leer ons dat die warmste vuuroond ‘n plek kan wees waar jy ongedeerd kan lewe [v25]. Die vuur sal jou niks doen nie, jou hare sal nie eers skroei nie, jou klere sal nie brand nie, jy sal nie eers na vuur ruik nie.
Dit gee ons hoop.
AMEN

Continue Reading

Sendingweek 2017

Luister en leef

Dit is nie genoeg dat ons net praat oor wat Jesus gedoen het nie. Ons sal dit moet waag om te doen wat Hy gedoen het. Jaco Strydom

Kom leer saam hoe ons meer in ons die gemeenskap kan uitreik en betrokke wees.

Spreker: Jaco Strydom

(CEO van die Echo Jeugontwikkeling, ‘n geloofsgemeenskap wat omgee vir jongmense in nood; Rubriekskrywer Beeld; Blogger, FinesseAnderkant die doringdraad; Deeltyds predikant in Villieria).

Sondagoggend, 15 Oktober, 09:00;

Sondagaand, 15 Oktober, 18:30 (Jeugdiens – daar sal pannekoek teen R5 voor en na die tyd verkoop word);

Maandagaand, 16 Oktober om 18:30 (daar sal beef en hoender shawarmas teen R50 op bestelling verkoop word);

Dinsdagaand, 17 Oktober om 18:30 (daar sal worsrolle teen R20 elk op bestelling verkoop word).

Louis Bothasingel 77, Somerstrand.
Continue Reading

Vreugdevol Vry!

Sluit gerus vir hierdie reeks aan by ‘n kleingroep.  Kontak die kerkkantoor om in te skakel.  Ons gaan ook weer saam inkleur.  Vir stiltetyd en in kleingroepe word die boekie “Vreugdevol Vry!” gebruik.  Materiaal vir verdere refleksie en families sal weekliks in die afkondigingsblaadjie wees.  Die Aanddiens gebruik die YouVersion “geleentheid” vir refleksie en kleingroepe.

15 Oktober 2017

Sendingweek

22 Oktober 2017

Familiediens: Hou op probeer… Sola Gratia

Aanddiens: Ontvang Rus… Sola fide

29 Oktober 2017

F:  Ontvang Rus… Sola fide  Hervormingsfees

A:  Hou op probeer… Sola Gratia

05 November 2017

F:  Meer as genoeg… Solus Christus Tiende dankofferfees

A:  Meer as genoeg… Solus Christus

12 November 2017

F:  Ontdek hoe om te leef… Sola Scriptura

A:  Die lewe as lied… Soli Deo Gloria

19 November 2017

F:  Voel God se ritme… Missio Dei

A:  Ontdek hoe om te leef… Sola Scriptura

26 November 2017

F:  Die lewe as lied… Soli Deo Gloria  Kerssangdiens

A:  Voel God se ritme… Missio Dei

Continue Reading

GOD STAAN VOOR JOU: NUMERI 22:1-35

‘n VERHAAL VAN GOD SE SORG wanneer ons op gevaarlike plekke beweeg – simbool: donkie

INLEIDING
Hierdie verhaal het baie uiteenlopende karakters. Koning Balak van Moab en die Moabiete aanbid die god Baal-Peor. Bileam is ‘n waarsêer wat in die land Ammau, Mesopotamië gewoon het, iemand wat enige G[g]oddelike wese sal aanroep ter wille van professionele sukses. Israel is op pad uit Egipte na die land wat God aan hulle beloof het en het nou in die land Moab aangekom. Dan lees ons ook van twee uitsonderlike karakters in hierdie verhaal, naamlik, die Engel van die Here en van Bileam se donkie.
Elkeen van hierdie persone in die verhaal, Balak, Bileam en Israel het op ‘n onvergeetlike manier ontdek dat God voor hulle staan. As God dit persoonlik vir Bileam sê, verstaan ons almal ook beter wat dit beteken dat God voor ons staan. Hy sê vir Bileam “Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op ‘n gevaarlike pad” [Numeri 22:32].
Ons kan onsself in die posisie van enigeen van hierdie persone plaas, en ons sal vind hoe die Here met ons praat. Vir elkeen van hierdie persone was daar ‘n ander rede waarom God voor hulle kom staan het.

BALAK
Balak wil die Israeliete vervloek, omdat hy bang is dat hulle sy land sal inneem. Uit vrees laat roep hy vir Bileam, die bekende waarsêer. Hy probeer sy invloed gebruik om dit vir Bileam so aantreklik as moontlik te maak om na sy land Moab te kom en die Israeliete te vervloek.
God staan egter voor hom, sodat dit nie kan gebeur nie. Geen poging om Bileam te oorreed om Israel te vervloek, slaag nie. God staan nie net voor Balak om hom te keer om Israel te vervloek nie, maar ook om homself te beskerm, want Israel is deur God geseën, en daarom sal Balak ‘n vloek oor homself bring as hy vir Israel vervloek. Sonder dat hy dus bewus is van die gevaarlike pad waarop hy hom begewe, beskerm God vir Balak.

BILEAM
God staan voor Bileam op ‘n baie aangrypende manier. Hy beskerm hom ook van dieselfde gevaarlike pad deur hom te verhoed om Israel te vervloek. Daar is natuurlik ook ander redes waarom Bileam op ‘n gevaarlike pad is.
As waarsêer, is Bileam bereid om enige bo-natuurlike en G[g]oddelike mag te gebruik om suksesvol te wees in sy uitsprake. Sover ons weet, was hy bewus van JHWH, die God van Israel. Bileam het in Mesopotamië gewoon. Hy was wel deeglik bewus van die magtige dade van die God van Israel, daarom raadpleeg hy eers vir God voordat hy besluit om saam met Balak se boodskappers te gaan. Wanneer God dan aan Bileam verskyn met die duidelike opdrag om nie saam met die boodskappers van Balak te gaan nie, was hy gehoorsaam, omdat God vir hom gesê het, hy mag nie vir Israel vervloek nie, want God het hulle geseën.
So is God besig om voor Bileam te staan, om hom te beskerm van ’n gevaarlike pad.
Dan kom die tweede groep boodskappers van Balak af en Bileam raadpleeg weer die Here voor hy hulle die volgende dag antwoord. Hierdie keer sê die Here hy kan saamgaan, maar hy mag net sê wat Hy hom beveel, maar omdat die Here onrustig is oor Bileam, gaan staan die Engel van die Here [God self, in die gedaante van ‘n engel] voor Bileam om hom te waarsku dat hy op ‘n gevaarlike pad is [v32].
Bileam het teen die tyd die stem van die Here geken, maar nog nie die gedaante van die Here, in die vorm van ‘n engel met ‘n swaard in die hand, herken nie.
Dan gebeur die verrassende, die donkie sien die Engel raak en wend drie pogings aan om Bileam bewus te maak van die Engel voor hulle, maar steeds sien hy niks raak nie. Eers toe die donkie met hom begin praat, besef Bileam hier is iets buitengewoon aan die gebeur. Eers toe maak die Here Bileam se oe oop, sodat hy die Engel van die Here kan sien. Dan se die Here vir Bileam: “Ek het jou kom voorstaan, want Ek sien jy is op ‘n gevaarlike pad” [Numeri 22:32]. Die donkie het dit gesien en drie keer uitgedraai, maar jy wou nie raaksien dat jy op ‘n gevaarlike pad is nie.
Na hierdie persoonlike ontmoeting met die Engel van God is Bileam in die bevoorregte posisie om nie net die stem van die Here te hoor nie, maar ook vir God in die gedaante van ‘n engel te sien. In hoofstukke 23 en 24 lees ons hoe Bileam vier keer openbarings van God uitspreek en Israel seën in plaas van om hulle te vervloek. Die waarsêer word toe ‘n profeet van God self.
Hierdie ondervinding sou Bileam se werk as waarsêer in die toekoms geheel en al verander.

ISRAEL
Hoewel ons niks lees van Israel nie, moes hulle bewus gewees het van die optrede van Bileam en dat die donkie met hom gepraat het. Israel sou ook weer op ‘n nuwe manier verstaan het hoe God voor hulle staan, selfs al is hulle totaal onbewus van alles wat God tussen Balak en Bileam laat plaasvind het. Hulle sou weer eens besef hoe God vir hulle sorg, selfs al is hulle nie bewus hoe gevaarlik die pad na die beloofde land is nie.

EK EN JY
Waar beweeg jy? Op watter paaie begewe jy jouself?
Wat gebeur in jou lewe wat maak dat dinge nie uitwerk nie? Gebeur ongewone dinge soos Bileam se donkie wat begin praat?
Wat is God besig om vir jou te sê?

GOD
Hy het ook die mees ongewone ding gedoen deur sy Seun aan die kruis te laat sterf, sodat ek en jy Sy stem kan hoor, veel meer as Bileam se donkie wat gepraat het.

Keer terug van die gevaarlike pad waarop jy is.

AMEN

Continue Reading

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marie Albertyn

    |

    Goeie Middag
    Ek sien u het verlede jaar verblyf gesoek vir u seun. As u van nog seuns weet, ek het n baie lekker kamer met kombuis en badkamer vir n seun.
    Tel.: 041-5831173 of 0842513492

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.