• Home
  • Belydenisskrifte

Belydenisskrifte

Drie ekumeniese geloofsbelydenisse

Hier is die drie ekumeniese geloofsbelydenisse van ons gemeente wat ons deel met ‘n groot deel van die wêreldkerk:

  1. Apostoliese Geloofbelydenis
  2. Geloofsbelydenis van Athanasius
  3. Geloofsbelydenis van Nicea

Drie Gereformeerde geloofsbelydenisse

Hier is die drie Gereformeerde geloofsbelydenisse van ons gemeente wat ons deel met die Gereformeerde wêreld.

  1. Nederlandse Geloofsbelydenis
  2. Heidelbergse Kategismus
  3. Dortse Leerreëls

The English versions of the six Confessions

Here is an English Version of these six Confessions:

‘n Kort beskrywing van die ontstaansgeskiedenis

Hier is ‘n kort beskrywing van elkeen:

1. Apostoliese Geloofsbelydenis

Die vroegste vorm van hierdie geloofsbelydenis dateer uit die derde eeu van ons jaartelling. Een van die legendes oor die “12 artikels” waaruit dit bestaan, is dat elkeen van die apostels daartoe bygedra het, maar daar is ongelukkig geen substansie daarin nie. Die 12 artikels is veral gebruik in die katkisasie proses voor die volwasse doop, waar die dopeling dit uit die hoof moes opsê. Hoewel dit vandag nie meer in die doopproses funksioneer nie, kan dit ‘n wonderlike herinnering aan die doop wees.

Dis trinitaries geformuleer, met die deel oor Jesus meer uitgebreid as die deel oor die Vader en die Gees. Die vroegste Latynse weergawe van die teks soos ons dit vandag ken, dateer uit die agste eeu. Al die kerke in die Weste, Protestants en Rooms-Katoliek gebruik dit. Die kerk in die Ooste erken dit ook, hoewel dit nie juis in publieke dienste gebruik word nie.

2. Geloofsbelydenis van Nicéa

Die geloofsbelydenis van Nicéa (in Turkye) is in 325 deur die Konsilie van Nicéa aanvaar om die Ariese invloede teen te werk. Arius het bv. geleer Christus was nie die Seun van God nie, maar ‘n ondergeskikte wese, wat ‘n streep deur die leerstuk van die Triniteit getrek het. Nicéa het geleer, Jesus was homo-ousios (gelyk in wese) met die Vader, wat ‘n geweldige belangrike begronding van die geloof van die kerk geword het. Later is (in die vorm soos ons dit vandag het) in die geloofsbelydenis bygevoeg dat die Heilige Gees ook van die Seun uit gaan (die frase Filioque is bygevoeg wat beteken: “ook van die Seun”). Die Oosterse kerke het ‘n probleem met so ‘n formulering en gebruik die oorspronklike vorm.

3. Geloofsbelydenis van Athanasius

Dit is blykbaar eers in Latyn geskryf en later in Grieks vertaal. Dit word veral in die Westerse kerk gebruik en ook in die Oosterse kerk, maar sonder die frase Filioque. Die datering moet ongeveer in die laat vierde eeu wees, egter nie later as die sesde eeu nie. ‘n Moontlike tyd is 381-428. Die uitvoerige klem op die Triniteit en die regte verstaan daarvan sowel as die dubbele natuur van Jesus val op in die belydenis.

Die verbintenis aan die persoon Athanasius (296-373) is nie so seker nie, hoewel hy ‘n baie besondere Christenleier uit daardie tyd was en die teologie van hierdie geloofsbelydenis met sy uitgangspunte ooreenstem. Gebore as Egiptenaar en in die Griekse taal onderrig, het hy gou ‘n belangrike rol in die kerk van daardie tyd gespeel. Op 33 jarige ouderdom was hy al biskop in Alexandrië in Egipte. Sy helder en vaardige teologiese insigte en toewyding as Christen het hom baie geliefd in die kerk van Egipte gemaak. Sy teenstand teen die leringe van Arius, het egter gelei daartoe dat hy vyf keer uit Egipte verban is vir ‘n totaal van sewentien jaar lank. Uiteindelik het sy teologiese insig die deurslag gegee, waarvan een navorser sê: “by his tenacity and vision in preaching one God and Saviour, he had preserved from dissolution the unity and integrity of the Christian faith.”

4. Die Nederlandse Geloofsbelydenis (Confessio Belgica)

Geskryf deur Guido de Bres (1522-1567) in 1561. Ander het detail veranderings aangebring (soos de Saravia, Modetus, Wingen en Junius). Hy het dit aanvanklik in Frans geskryf, maar dit is gou vertaal in Nederlands en Duits en is wyd aanvaar. Dit is uiters entoesiasties ontvang in Nederland en aanvaar by sinodes van Antwerp, Dordt en Middelburg en uiteindelik deur die nasionale sinode van Nederland in 1619. Daarom het dit ook mettertyd as die Nederlandse Geloofsbelydenis begin bekend staan, hoewel dit steeds in die Engelse wêreld as die Belgiese Belydenis bekend staan. De Bres het sterk aangesluit by die Galliese Belydenis van Calvyn van 1559, geskryf in Frankryk vir die Hugenote (bynaam vir die Franse Calviniste).

Min is oor de Bres bekend, behalwe dat hy in 1522 gebore is in Mons, Hainaut (België) en na Engeland gevlug het in 1548, waar hy by ‘n vlugtelinggemeente in London aangesluit het. Hy keer in 1552 terug na België waar hy ‘n leidende rol speel om gemeentes te stig en hulle te versorg. In 1561 word hy weer vervolg en moet vlug van die Spaanse regeringsmagte, wat bekommerd was oor die Protestantisme en die groeiende Hugenote invloed. Om te wys dat hy nie anti-staat was nie, werk hy nou saam met Willem van Oranje. Ongelukkig wanneer Valenciennes beleër word deur die Spanjaarde en hy die radikales nie kan oortuig om oor te gee nie, word hy saam met hulle tereggestel vir rebellie, nadat die stad uiteindelik ingeneem is. Sy besorgdheid oor eenheid, sy pastorale ywer en sy teologiese leierskap het ‘n blywende indruk gemaak op die Protestante geloof.

5. Heidelbergse Kategismus

Die idee van ‘n kategismus kom vanaf die gebruik om nuwe bekeerlinge te “katkiseer” voor hulle gedoop is. Met die wydverspreide aanvaarding van die kinderdoop, het dié gebruik gaandeweg verander in ‘n katkisering van die gedoopte lidmate van die kerk. Die inhoud was normaalweg gesentreer om die Tien Gebooie, die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Onse Vader gebed. So het Luther in sy “Kleiner Katechismus” dit ook deel van die Protestantse kerk gemaak. Hy het ook lering oor die sakramente bygevoeg, gekoppel aan die idee dat dooplidmate gereed gemaak moet word om as belydende lidmate van die kerk te dien – vandaar die klem in ons kerk op belydenisaflegging.

Die Heidelbergse Kategismus is in 1563 geskryf deur Olevianus en Ursinus en by die Sinode van Dordt (soos gewysig) aanvaar in 1618-19. Dis in drie dele verdeel wat die drie dinge is wat jy moet weet om “getroos” salig te kan lewe en sterwe. Die drie dinge is: Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees. In die eerste deel funksioneer die wet net as verwysing na die instrument waaruit jy jou sonde ken en word die Tien Gebooie eers volledig behandel in die derde deel as reël van dankbaarheid (op voetspoor van Calvyn). In die tweede deel word artikel vir artikel op die Apostoliese Geloofsbelydenis gefokus, saam met ‘n lering oor die sakramente en die kerklike tug. In die derde deel word die Tien Gebooie saam met die Onse Vader as die dankbare respons teenoor God behandel.

6. Dordtse Leerreëls

By die sinode van Dordt (Die dorpie Dordrecht in Nederland) in 1618-19 is die stryd tussen die Remonstrante (wat saam met die Arminiane op die vryheid van die wil van die mens gewys het) en die Kontra-Remonstrante (wat die ortodokse Calvinistiese leer van die onvoorwaardelike uitverkiesing gehandhaaf het) op die spits gedryf. Die sinode het midde-in ‘n bitter teologiese en politiese stryd (tussen die Remonstrant-ondersteuner Jan van Oldenbarneveldt – ‘n staatsman wat vrede en verdraagsaamheid gesoek het – en die Kontra-Remonstrante ondersteuner Maurice – die militêre leier teen die Spanjaarde wat ook in die kerk steun vir sy voortgaande oorlog teen Spanje gesoek het) plaasgevind.

Die sinode het (na dit gelaai is deur die “regte” Kontra-Remonstrante ondersteuners!) die ortodokse posisie gehandhaaf, naamlik 1) die totale verdorwenheid van die mens 2) die onvoorwaardelike uitverkiesing van God (God kies mense nie uit vanweë enige aksie van hulle kant af nie), 3) die beperkte versoening (Jesus het net gesterwe vir die uitverkorenes), 4) die onweerstaanbaarheid van die genade (die uitverkorenes kan God se uitverkiesing nie weerstaan nie) en 5) die volharding van die uitverkorenes (eenmaal uitverkore, altyd uitverkore). [In Engels word dit meermale weergegee met die akroniem TULIP (T– Total inability, U– Unconditional election, L– Limited atonement, I– Irresistible Grace, P– Perseverance of the Saints).]

Die belydenis van Belhar

Hier is ook ‘n skakel na die belydenis van Belhar wat deur die VGK as belydenisskrif aanvaar is.

     

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.

  • Avatar

    Jan Knoetze

    |

    Hierdie boodskap het my vanoggend weer hoop gegee. Ek het reeds besluit om op te gee met my roeping, nou vra ek weer die vraag; waar wil ons Here my hê? Dankie en God bless.

  • Avatar

    Tilla

    |

    Ons sien uit na lekker kuier!

  • Avatar

    webmeester

    |

    Dankie!

  • Avatar

    Mariette

    |

    Sowaar “food for thought”!
    Baie dankie…