1 Petrus 1:1-9 – Jubel oor God in allerhande beproewings

8 Oktober 2017 Aanddiens Somerstrand

Versoekings en beproewings

Ek lees die week ’n interessante hoofstuk in die boek van Lance Hahn, The Master’s Mind.  Die hoofstuk handel oor God wat versoekings en beproewings – temptations and trials – toelaat in ons lewe, omdat dit vir ons goed is.

Regtig? Regtig.

Dieselfde Griekse en Hebreeuse woorde – peirasmos en massâ – word in die Skrif gebruik vir versoekings en beproewings, soos Jakobus 1 onder andere uitspel.  Die onderskeid hang af van die bedoeling en motivering.

  • Is die bedoeling van die moeilike situasie waarin jy jouself bevind, om jou af te breek?  Dan is dit ’n versoeking. 
  • Is die bedoeling van die moeilike situasie waarin jy jouself bevind, om jou op te bou?  Dan is dit ’n beproewing.

Versoekings wil jou in sonde laat val.  Dit is nooit iets wat God sal doen nie.  Maar, Hy toets jou wel – met deernis – om jou te dissiplineer.

Jakobus sê oor versoekings: 12 Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet.”

Hy is baie duidelik daaroor dat sonde anti-God is.  God sal dus nooit iemand lei om te sondig nie.  13Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. 14Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. 15Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.” (Jak. 1:12-15).

Maar, God sit gelowiges deur moeilike situasies wat twee goed aan hulle kan doen.  Dit kan eerstens vir jou soos ’n spieël wees, jou huidige situasie aan die lig bring, jou help om dinge raak te sien wat jy moet verander, dinge wat jy moet los, dinge wat jy moet begin doen.  Dit kan tweedens vir jou wees soos ’n stel trappe, om jou sterker maak, jou fikser te maak, en te dinge te leer wat nodig is in jou geloofslewe.

Soos dieselfde Jakobus sê, en hy gebruik dieselfde Griekse woord om oor beproewings te praat: 2My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, 3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.” (Jak. 1:2-3)

En Jakobus moedig ons aan om te volhard, omdat dit tot geestelike rypheid lei.  En as ons wysheid kortkom, moet ons dit van God bid wat aan almal sonder voorbehoud gee sonder verwyt (Jak. 1:4-8).

Natuurlik is beproewings steeds ’n uitdaging.  En ons gaan nie altyd weet of iets ’n versoeking of ’n beproewing is nie.  Dit weet net God.

Uit hierdie lees van Lance Hahn se boek het ek na die Bybel gaan kyk vir verdere leiding, en die Here het met my gepraat uit die eerste brief van Petrus.  Ek sal dit graag met julle lees en vyf gedagtes met julle deel om julle te laat volhard in beproewings en versoekings. Die eerste twee kom uit die gedeelte.  Die laaste drie uit die res van die hoofstuk wat jy ná die tyd kan gaan lees.

1 Petrus 1:1-9

1:1Petrus, ‘n apostel van Jesus Christus aan die vreemdelinge van die Diaspora in Pontus, Galasië, Kappadosië, Asië en Bitinië, 2 hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God die Vader om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word:  Mag genade en vrede in oorvloed aan julle geskenk word!

3 Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus! Dit is Hy wat ons in sy groot ontferming, deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood, opnuut verwek het sodat ons ‘n lewende hoop mag hê 4 op ‘n erfenis wat nooit vergaan, besmet word of verwelk nie, en wat in die hemel vir julle in bewaring gehou word —5 ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing wat gereed is om in die eindtyd geopenbaar te word.  6 Hieroor moet julle jubel, al moes julle nou eers vir ‘n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word. 7 Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof —’n egtheid wat baie kosbaarder is as goud wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word —uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word. 8 Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie; en al sien julle Hom nie nou nie, glo julle in Hom en jubel julle met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap, 9 omdat julle reeds deel het aan die doel van julle geloof, naamlik die verlossing van julle siele.

1.  Die Drie-enige God is aan julle verbind (1:1-2)

Petrus rig in vers 1 sy brief aan die “vreemdelinge van die Diaspora” en dui daarmee die Christene uit die heidennasies aan wat verspreid woon in provinsies in die noorde en weste van wat ons vandag ken as Turkye.  Petrus het duidelik ’n band met dié gelowiges, hoewel ons nie presies weet hoe dit gebeur het nie.

Die drie aspekte wat Petrus in vers 2 van die Drie-enige God se verbintenis aan hulle uitspel, is baie bemoedigend en eintlik al genoeg om vanaand oor na te dink:

1.1  “Hulle wat uitverkies is volgens die voorkennis van God die Vader ….”

God die Vader se voorkennis en uitverkiesing van hulle van ewigheid af dui aan dat God se verhouding met sy mense iets is wat in Homself begin het.  Die Griekse woord wat hier met voorkennis vertaal word, is die woord prognôsis wat ons natuurlik ook sal herken in die mediese term prognose.  God het dus vooraf geweet dat Hy ons gaan kies! Hy het vooraf besluit om ons te ken! 

God se keuse vir en van ons is daarom nie maar ’n tydelike bevlieging nie, maar het ’n ewige karakter.  Sy voorkennis is ook nie gebaseer op hóé sy mense is nie, óf wat hulle gedoen het of nog sal doen nie, maar gebaseer enkel en alleen op grond van sy eie genadige voorneme, ’n waarheid wat die Hervorming omarm het en as deel van die vyf solas bely het – sola gratia, van ewigheid af.  Voorkennis beteken dus: God het geweet wat Hy gaan doen.

Sy uitverkiesende besluit, sy prognose, is daarom gebaseer nie op wat ons gaan doen nie, maar op wat Hy gaan doen.  In sy genade het Hy besluit, voordat ons kon kies of kon vra, om met ons die pad te stap na die nuwe koninkryk wat Hy gaan vestig. 

Dieselfde gaan in vers 20 oor sy voorkennis van die Christus gesê word, dié een wat in tyd aan ons geopenbaar is.  Hy het ook vooraf geweet dat Hy Jesus as die Christus gaan bekendstel. 

Oor só ’n voorkennis en uitverkiesing kan ’n mens net juig.  Trouens dit is al manier om daarop te reageer.  God se keuse vir ons kom dus nie net uit die verre verlede nie.  Dit kom uit die tydlose ewigheid voor alles tot stand gekom het wat ons as die heelal ken!  Tóé al het Hy geweet Hy gaan ons kies om deur die Gees heilig gemaak te word sodat ons aan Hom gehoorsaam kan wees. 

Ons het dus in God se gedagtes bestaan, lank voor ons die lewenslig aanskou het.  Wat ’n diep voorreg en vreugde is dit nie!

1.2  “om deur die heiligmaking van die Gees gehoorsaam te wees ….”

Die Heilige Gees se heiligmakende krag begelei hulle tot gehoorsaamheid aan God.  Ons dink nie genoeg hieraan nie.  Heiligmaking is net so ’n geskenk van God as wat geloof dit is.  Die feit dat ons aan God gehoorsaam lewe, kom ook van Hom af.  Hy het geweet Hy gaan ons heilig maak sodat ons Hom kan ken.  En Hy is besig om dit nou uit te voer deur die Gees. 

Dit gebeur uiteraard nie sonder dat ons Hom toelaat en met Hom saamwerk nie.  Vandaar die oproep in die res van die brief om op God se verbintenis aan ons te reageer met ’n verbintenis aan Hom in die praktyk van die lewe.  Maar, heiligmaking bly steeds iets wat die Gees in ons doen, en daarom ’n geskenk van God.  God werk dus in ons met die oog op die toekoms.  Hy wil ons volmaak saam met Hom in sy koninkryk inneem.

1.3  “en met die bloed van Jesus Christus besprinkel te word.”

Die besprinkeling met die bloed van Jesus Christus dui nie net op iets wat met die doop en met wedergeboorte gebeur nie, maar inderdaad op iets wat deur die hele lewe van toepassing is.  Die bloed van Jesus Christus reinig ons voortdurend om met God in verhouding te kan staan, soos ’n mens ook in Hebreërs 9:14 lees: “hoeveel te meer sal die bloed van Christus … ons gewete reinig van dooie werke sodat ons die lewende God kan dien.”

God neem dus ook deur Christus verantwoordelikheid vir ons hede, sodat ons by dié toekoms waarop Hy reeds in die ewigheid besluit het, kan uitkom.

2.  Jubel oor God in allerhande beproewings (1:3-12)

Met hierdie inleiding is dit geen wonder dat Petrus uitbars in ’n lofbetuiging aan God nie.  God het ons op grond van sy eie voorkennis, sy prognose, uitgekies.  Hy het vir ons die heiligmaking deur die Gees gegee sodat ons aan Hom gehoorsaam kan lewe.  En Hy besprinkel ons voortdurend met die bloed van die Here Jesus Christus, sodat ons rein en heilig voor God kan lewe.

Daaroor kan ons die Here net prys.  Dit is een van die groot redes hoekom ons hier saamkom as gelowiges. Om God te prys, vir sy uitverkiesing, vir sy heiligmaking, vir sy vergifnis.

Petrus fokus vervolgens in sy sy lofprysing op die ewige erfenis wat in die hemel vir ons in bewaring gehou word.  Die opstanding van Jesus Christus uit die dood is die basis van ons hoop – ’n lewende hoop – dat ons dié erfenis aan die einde in besit sal neem.

Let op hoe Petrus in vers 5 ons geloof en die krag van God aan mekaar verbind: “ja, vir julle wat, deur julle geloof, deur die krag van God bewaar word vir die verlossing.” Beide God se krag sowel as ons geloof speel ’n rol in ons volharding tot die einde toe.  Ons gryp vas aan God, omdat Hy ons gegryp het.  Ons kan aan God vasgryp, omdat Hy aan ons vasgegryp het.

Oor hierdie erfenis en hierdie toekoms moet ons jubel … “al moes julle nou eers vir ’n kort tydjie deur allerhande beproewings bedroef word.”  Daar is immers ’n doel met beproewings – dit wys die egtheid van ons geloof, iets wat baie kosbaar is.  Die toetsing deur beproewings wys dat geloof beproefd is, dat dit die moeite werd is.  En die motivering vir ons volharding kom van ons liefde vir die Here Jesus Christus, in wie ons glo, al het ons Hom nog nie gesien nie.  Hy is die Een van wie ons glo dat Hy ons by die verlossing sal uitbring, sodat ons die einddoel van ons geloof kan bereik.

3.  Wees heilig, want God is heilig (1:13-21)

Petrus sal in die res van hoofstuk voortgaan om hulle op te roep om verstandelik paraat te wees (“omgord die lendene van julle verstand”) en nugter op te tree en hulle volledig op God se genade te verlaat.  Hulle hele persoonlike lewe moet van God se heiligheid getuig, omdat dit is hoe God is, aangehaal uit Levitikus (Lev. 11:44-45; 19:2; 20:7).

Hulle moet dus nie meer leef soos hulle natuurlike neigings van vroeër (vers 14) en die oorlewerings van hulle voorvaders (vers 18) aan hulle voorskryf nie, want dit is sonder kennis van God en lei tot ’n sinlose lewe. 

Hulle moet leef soos God dit aan hulle geopenbaar het in Christus Jesus.  Hy is die voorbeeld en die inhoud van die geloof.  God se heiligheid moet hulle tot ontsag vir God beweeg, nie om vir Hom bang te wees nie, maar om Hom te gehoorsaam.  Hulle verlossing het Hom duur gekos, omdat hulle: “losgekoop is met die kosbare bloed van Christus, Hy wat soos ’n lam is, vlekloos en sonder liggaamsgebrek.” Die offer van Christus het hulle dus in die regte verhouding met God gebring.  Hulle hele lewe moet nou vir God geleef word.

4.  Hê mekaar met rein harte innig lief (1:22-25)

En sy oproep is nie net dat hulle hulleself persoonlik aan God moet verbind nie.  Dit is iets wat ook in die geloofsgemeenskap uitgeleef moet word.  Die hele idee van ’n innerlike verbintenis aan God kom net tot sy reg wanneer daar op ongeveinsde manier ware liefde teenoor mekaar betuig word.  Hulle moet mekaar “innig met rein harte liefhê.” Die Griekse woord wat hier met “innig” vertaal is, kan ook met “onophoudelik” vertaal word. Ons moet mekaar onophoudelik lief hê. Dit is immers die tipe liefde wat pas by mense wat deur ’n ewige God liefgehê word!

Die rede hiervoor spruit voort uit die hartsverandering wat hulle beleef het: “Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.” Petrus verwys hier na gedagtes wat meer volledig in die evangelie van Johannes en in sy eerste brief uitgewerk is (Joh. 1:13; 3:3,7; 1 Joh. 3:9; 5:18). 

Hierdie versekering van God se werk in ons is eintlik ongelooflik.  God se ewige werk in ons kan nie uitgewis word nie, sê Petrus, en hy kontrasteer God se werk met die bestaan van die mens wat net tydelik soos veldblomme en gras is!  Ons onverganklikheid en daarom ons hoop op die toekoms lê dus nie in onsself nie, maar in die ewige God se besluit. 

Hy het vooraf reeds goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna!

5.  Volharding is die moeite werd

Ja, God het reeds vooraf goed geweet wat Hy met ons wil doen hierna!  Daarin lê die diep evangelie van hierdie teks vir my opgesluit.  Dit maak die volharding in beproewings die moeite werd.  Dit moedig my aan om onverskrokke heiligheid in alles in my persoonlike lewe na te jaag en as geskenk van God te ontvang.  Dit inspireer my om onophoudelik en van harte lief te hê.  Want, God die Vader het my van alle ewigheid af lief. God die Seun neem verantwoordelikheid vir my hede en hou my rein. En God die Heilige Gees neem verantwoordelikheid vir my toekoms. Hy sal sorg dat ek die erfenis in besit sal neem.  Daarom het ek dit eintlik nou alreeds!

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Marie Albertyn

    |

    Goeie Middag
    Ek sien u het verlede jaar verblyf gesoek vir u seun. As u van nog seuns weet, ek het n baie lekker kamer met kombuis en badkamer vir n seun.
    Tel.: 041-5831173 of 0842513492

  • Avatar

    Marinel Coetzer

    |

    Ek is dringend opsoek na selfsorg verblyf vir my , my ma en my seuntjie vir ongeveer n maand tot 2. Ek is swanger met n tweeling en hul word vroeg gebore so hul gaan in NICU vir n hele ruk wees. Ons kom van patensie en kan nie elke dag in en uit ry nie. As daar enige iemand is wat my kan uithelp asb laat weet my.

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Sonja. Die OT apokriewe (weggelate) boeke is boeke wat uit die Joodse tradisie kom, maar nie met dieselfde gesag as die kanonieke (maatstawwe) boeke in die Bybel deur die Protestantse kerke aanvaar word nie.  Dit word dus nie as maatstaf of riglyn vir die geloof gebruik soos wat wel die geval is met die kanonieke boeke nie.  Hulle word ook deuterokanonieke (tweede maatstawwe) boeke genoem.  Hulle is waardevol, maar nie gesagvol nie.  Jy kan meer daaroor by hierdie skakel by Bybelskool lees. In kort is die NG Kerk se standpunt hieroor in die Nederlandse Geloofsbelydenis as volg: “Die kerk mag hierdie boeke wel lees en daaruit lering trek vir sover hulle met die kanonieke boeke ooreenstem. Hulle het egter geensins sodanige krag of gesag dat iemand deur hulle getuienis enigiets van die geloof of van die Christelike godsdiens sou kan bevestig nie. Hulle mag nie in die minste aan die gesag van die ander, die heilige boeke, afbreuk doen nie.” (artikel 6)

  • Avatar

    Sonja blignaut

    |

    Naand ds Chris.
    Kan u miskien vir my u opinie gee oor die Aprokriewe boeke? Moet ek dit in dieselfde lig as die ,Bybel bestudeer?
    Baie dankie
    Sonja

  • Avatar

    webmeester

    |

    Hi Jan. Die Here se Woord bly lewend en kragtig. In my eie herlees van hierdie preek het die Here self weer met my gepraat! Seën.