1 Korintiërs 9:19-23 – Maak kontak!

Ek wil vanaand vir julle vyf verhale vertel en ‘n paar ander gee vir verdere nadenke.  Want, dit is hoe die Here ons harte aanraak, deur verhale.  Soos ons luister, kan die Gees dit gebruik om diep in ons hart in te kom en ons te verander.  Julle kan ook die blaadjie gebruik dié week om met ander te gesels en na hulle verhale te luister

Paulus se roepingsverhaal

Die eerste verhaal is dié een wat ons in 1 Korintiërs 9:19-23 lees.  Dit is die meesterverhaal waarmee die Here met ons praat vanaand. 

Kom ons lees dit:

19Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. 20Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. 21Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. 22Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. 23Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.”

Om vir almal alles te word ter wille van die evangelie

Paulus skrywe oor sy roeping om “vir almal alles te word om in elke geval sommige te red“.  Dit het beteken dat hy vir Jode erns moes maak met die wet, al was hy vry van die wet.

  • Daarom het hy bv. die sabbat nagekom ter wille van die Jode, anders sou hulle hom nooit toegelaat het om by hulle in die sinagoge op te tree nie.
  • Hy het vir Timoteus laat besny, al het hy geweet dat die besnydenis nie meer nodig was nie (Hand. 16:3). Maar hy doen dit, omdat Timoteus ‘n Joodse ma gehad het, sodat Jode nie hulle evangelie kon beswadder omdat hulle sou kon dink dat Paulus-hulle nie erns gemaak het met die verbond verpligtinge nie.
  • Hy het ook op ‘n keer vir ‘n offer betaal vir Jode wat ‘n gelofte afgelê het en nie daarvoor kon betaal nie, en ook self geoffer, al het hy geweet die offerkultus het met Jesus se kruisdood tot ‘n einde gekom (Hand. 21:27; 24:17).

20Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen.” Inderdaad.

Maar terselfdertyd het hy vir die mense wat sonder die wet leef, vir die heidene, geword soos een wat sonder die wet leef.

  • Hy het die Sondag, die eerste dag van die week, saam met die gelowiges gevier (Hand. 20:7). Net soos hy die sabbat saam met die Jode gevier het.
  • Hy het vir Titus juis nie besny nie, omdat Titus ‘n Griek was en Paulus wou demonstreer dat die besnydenis nie meer ‘n onderskeidingsteken vir die gelowiges uit die heidene was nie (Gal. 2:3). Hy het geweet dat as gelowiges uit die heidene hulle kinders sou begin besny, sou hulle eintlik die Here Jesus verloën.  Dit sou hulle aan uiterlike tekens laat vashou, eerder as aan die Here Jesus.
  • En hy het die heidene geleer om hulle liggame aan God te offer, want dit is ‘n godsdiens wat sin maak (Rom. 12:1-2). Hy het hulle geleer om in geloof te lewe (Fil. 2:17), en dankoffers te gee, want dit is offers wat God se guns wegdra (Fil. 4:18).

So het hy vir die swakkes swak geword, trouens “vir almal alles geword”.  Hoekom? “Om in elk geval sommige te red.”  Geen wonder dat sy bediening en uiteindelik skryfwerk die hele Christelike wêreld beïnvloed het en steeds doen.  Want hy het verstaan hoe mense werk en wat in hulle aangaan en daarby aangepas.

Hy het: “vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen.”  Inderdaad.

Soms het hy wel skerp verskil van mense ter wille van die evangelie

Let op dat Paulus nie sy eie menings en oortuigings prysgee nie, nooit die liefdesgebod van Christus bv. verlaat nie, want hy beskryf homself as onder die wet van Christus, maar tog aangepas het by die mense wat hy op ‘n gegewe tyd bedien, sodat hy iets vir hulle kan beteken, sodat hy sommige van hulle kan red.

Soms het hy egter ook baie skerp verskil van mense wie se oortuigings die hart van die evangelie aangerand het.

  • Dit het hy gedoen teenoor Jode waar hy Petrus en Barnabas teengestaan het omdat hulle skynheilig was en hulle afgeskei het by die etenstafel van die heidene en net saam met die Jode geëet het (Gal. 2:11-14).
  • Dit het hy ook gedoen teenoor die heidene, soos telkens in hierdie brief, waar hy verkeerde idees oor allerlei aanvat. Sake soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11), prostitusie (6:12-20), seks en die huwelik (7:1), ongetroudes (7:25), offers aan afgode (8:1), die hoofbedekking van vroue (11:2-16), die nagmaalviering (11:17-34), geestelike gawes en die erediens (12:1), offergawes (16:1) en selfs oor Apollos (16:12).

Maar ook dit het hy gedoen ter wille van die evangelie.  Trouens: “23Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.”  Inderdaad.

Hoekom werk Paulus só?

Want hy weet die evangelie kan nie af geforseer word in ander mense se kele nie.

Ek lees die week ‘n klein storietjie wat dit illustreer.  Dit is die tweede verhaal wat ek wil gebruik.

Elke dag, op presies dieselfde tyd, gaan Margaret na die badkamerkassie, maak die deurtjie oop, en haal die groot bottel kasterolie uit.  Dan gaan sy kombuis toe om ‘n eetlepel te neem.  Die oomblik wat sy die badkamerkassie oopmaak, sny haar Yorkshire terriër, Patches, ‘n lyn en gaan kruip weg.  Soms duik hy onder die bed in, ander kere kruip hy agter ‘n groot stoel weg.

Iemand het Margaret oortuig Patches sal sterk tande ontwikkel, ‘n pragtige pels kry, en ‘n lang lewe hê as sy hom elke dag ‘n eetlepel kasterolie gee.  As ‘n daad van liefde, een maal ‘n dag, keer sy Patches aan, druk hom teen die grond vas, dwing sy mond oop, en gooi ‘n eetlepel kasterolie by sy keelgat af.

Natuurlik het nóg Margaret nóg Patches hulle daaglikse stoeigeveg geniet.

Toe gebeur dit.  Op ‘n dag, tydens die gebruiklike geveg, stamp Patches die gehate bottel kasterolie dat dit oor die vloer trek.  Jy sien net olie spat.  Dis ‘n tydelike oorwinning.  Margaret moet eers ou handdoeke in die badkamer gaan soek om die gemors skoon te maak.

By haar terugkeer, is Margaret verstom.  Patches staan in die middel van die poel kasterolie en lek dit gretig op.  Hy het ‘n tevrede uitdrukking op sy bakkies soos net ‘n hond kan hê.  Margaret moes van die lag uitbars.  Skielik het alles sin gemaak.  Patches hou van kasterolie.  Hy haat dit egter om vasgedruk te word en kasterolie in sy keel afgeforseer te kry.

Mense is ook só.  Hulle wil agterkom wat die punt is van wat jy met hulle deel, hoe dit vir hulle van betekenis kan wees, en dan is hulle gereed om die evangelie te aanvaar.

Hoe ver sal jy gaan ter wille van die evangelie?

Die vraag is natuurlik hoe ver jy bereid sal wees om te gaan om ander vir die evangelie te probeer wen?  Hier is ‘n derde verhaal om jou aan te meet en te oorweeg wat die Here daardeur vir jou sê.

Matteo Ricci, ‘n Italiaanse Christen uit die Jesuïeteorde, kry eindelik in 1583 toestemming om China binne te gaan.  Die Chinese regering het destyds nie Europeërs in China toegelaat nie.  Hy gaan toe geklee soos ‘n Boeddhiste monnik wat Chinees praat en stel homself voor as ‘n nederige soeker na wysheid.  Aan die begin was hy glad nie suksesvol nie.  Die Chinese in die gebied waar hy gewerk het, naby Canton, het nie die Chinese dialek wat hy in Macao aangeleer het, gepraat nie.  Hulle het ook nie van Boeddhiste gehou nie.  Matteo volhard egter en wen mettertyd die vertroue van die mense.

Matteo het ook talle kontakte by die koninklike hof opgebou.  Daar was mense baie beïndruk met sy nederige aanpak en sy belangstelling in Chinese kundigheid.  Die koning het baie van Matteo se geskenke gehou, veral ‘n klok en ‘n harp.  Matteo het na nuwe maniere gesoek om die Christelike geloof oor te dra sodat dit sin vir die Chinese sou maak.  Hy het verskeie Christelike tekste in Chinees vertaal.  In 1603 skryf hy Die ware leer van die Heerser van die Hemel, wat die Christelike geloof aangebied het in die vorm van ‘n filosofiese gesprek in die tradisie van Confucius.  Die boek is in Chinees geskryf en is baie goed ontvang.

Matteo Ricci was die eerste groot Jesuïete sendeling na China.  Talle ander het hom gevolg en die uitdra van die evangelie op ‘n kultuursensitiewe wyse gedien.

Twee kragte

In die lewe van Matteo Ricci het twee kragte saamgespan.  Die eerste was sy passie om die evangelie te deel.  Die tweede was die passie om naby aan die mense te kom, om soos hulle te word.  Sodoende kon hulle die evangelie by hom hoor.

Vir ons mag dit vreemd klink dat iemand as Christen in die drag van ‘n Boeddhis gaan.  Tog is hierdie aksie deel van die kern van die Christelike geloof.  Jesus het die verlossing vir ons gebring, maar in die gestalte van ‘n mense.  Soos Matteo het Hy onder ons kom woon, sodat ons die goeie nuus kon hoor, ja, sodat die goeie nuus in die gedaante van ‘n mens vir ons gedoen kon word.

Jesus het God se aksie tot ons redding beliggaam.  Ons noem dit inkarnasie.  Matteo Ricci het ‘n inkarnasionele benadering gevolg.

Dieselfde gebeur met Paulus.  Hy beskryf sy Godgegewe passie in 1 Korintiërs 9.  Sy passie is om die evangelie te verkondig.  Hy doen dit deur vir die swakkes swak te word, vir die sonder die wet soos een sonder die wet, en vir die onder die wet soos een onder die wet.

Kultuursensitiewe verkondiging

‘n Mens moet versigtig wees dat die vrymoedigheid om te verkondig nie kultureel onsensitief is nie.  Verkondiging moenie vanuit ‘n posisie van mag en oordondering geskied nie.

Hier kan ons baie by Paulus leer.  Ook by Matteo Ricci.  Verkondiging moet geskied binne die raamwerk van liefde en nabyheid.  ‘n Verkondiger moet ‘n goeie luisteraar wees.  ‘n Verkondiger moet belangstel in die beswil van die mense en sensitief wees vir wie hulle is en waar hulle op die lewenspad verkeer.  Verkondiging is ‘n uitnodiging na die pad wat tot die lewe lei.  Dit is nie dwang soontoe nie.

My eie verhaal

Ek sal die Here altyd dankbaar bly dat Hy my oë vir kultuursensitiewe verkondiging oopgemaak het reeds in my studentejare.  Dit is die vierde verhaal wat ek wil vertel, veral omdat dit die belangrike element van luister sodat jy verstaan, beklemtoon.

Ek was op die Kweekskool se SR in die vroeë tagtigerjare. Baie min geweet van wat in ons land aangaan. Maar het bewus geword van die konflik in ons land toe ons uitgereik het na die Wes-Kaap se Sendingkerk Kweekskool en ‘n totale koue skouer gekry het.  Hulle wou geen kontak met ons hê nie.

Ons het besluit, maar dan moet ons self ons gaan blootstel aan wat in ons land aangaan, want sonder daardie blootstelling gaan ons nie ons bediening goed kan uitvoer nie.  Vier van ons het in my beige Peugeot 504 geklim en een vakansie in 1983 op reis gegaan. Ons het by Rhodes met dosente van hulle teologiese fakulteit gaan gesels, en ook in Fort Hare.  Daar het ons alreeds baie gehoor oor wat regtig in ons land aangaan.  Ons was in De Coligny, die ander NGKA Kweekskool en toe die lewensveranderende ontmoeting in Durban met iemand van die ANC by Westville. Dat iemand ‘n oortuigde Christen kon wees, en deel van die ANC het my oë begin oopmaak.

Die ontmoeting met ‘n klomp dosente en studente in Pieter Maritzburg se Kweekskool vir Anglikane en Metodiste het my nog dieper aan die uitdagings van ons land blootgestel, veral toe ek my eerste kennismaking met die veiligheidspolisie en gedwonge verskuiwings op ‘n rolprent kon sien.

Vandaar het ons ‘n paar besoeke in Johannesburg gehad, onder andere Frank Chikane by die SARK en oom Beyers Naudé wat toe nog in huisarres was.  Hulle het vir ons ‘n teologiese basis gegee vir die begrip van hoe kruiskulturele kontak werk, en hoe noodsaaklik dit in ons land is om oor grense te gaan.

Ek het later ingeskakel by koinonia wat ‘n beweging was om Christene van verskillende woonbuurtes by mekaar uit te bring, en selfs een nag gaan eet en slaap in KwaZakhele om doelbewus die grense na ander oor te steek.

Dit het my voorberei vir die deelword van die eenheidsgesprekke in ons kerk, selfs al het dit soms regtig baie moeilik gegaan.  Ek onthou een gesprek jare daarna met ‘n predikant van die VGK, wat deel was toe hulle toentertyd vir ons nee gesê het toe ons uitgereik het na hulle op Wes-Kaap, hoe anders dit sou kon verloop het as ons mekaar toe al ontmoet het.

Die punt van my verhaal is dat waar jy jou blootstel aan ander en jy grense oorsteek ter wille van die evangelie, maak dit deure oop wat jou op ‘n heel ander plek bring as wat jy sou gekom het, as jy net binne die veilige ruimtes van die bekende sou gebly het.

Maak kontak!

Daarom skryf ek in my boek oor die noodsaaklikheid om kontak te maak met ander groepe as jyself.  Die blote feit dat jy kontak maak met iemand van ‘n ander groep, breek alreeds vooroordele af.  Dit is juis ons isolasie en skeiding van mekaar wat vooroordele versterk.

En waar jy dit doen, kom die geleenthede vir die evangelie om mense vir die Here Jesus Christus te wen.

In die boek wat ek geskryf het, gee ek 20 Leidrade vir sulke kruiskulturele kontak.  Ek wil net punt 6-7, 10, en 13-14 beklemtoon. Jy kan in die boek meer daaroor lees.

  1. Maak die speelveld gelyk
  2. Erken ervarings wat uit vorige kontak voortvloei
  3. Ontvang protes as ‘n geskenk tot heling
  4. Bevraagteken etikette en gevestigde sosiale norme wat kontak verhinder
  5. Definieer duidelik gemeenskaplike doelwitte
  6. Skuif die fokus weg van intellektuele argumente

Meer intellektueel geskoolde mense is altyd in die versoeking om vanuit ʼn akademiese raamwerk in kontaksituasies te reageer en op ʼn meer abstrakte vlak oor kontak en vriendskap te praat. Dit het waarde, maar kan maklik verhinder dat die noodsaaklike praktiese verhoudings gesluit word. Dit is daarom verkieslik om met sensitiwiteit die fokus van intellektuele argumente weg te skuif na werklike kontak met mekaar.

  1. Gebruik ‘n verhoudingsbou-aanslag

In teenstelling met die kognitiewe, intellektuele aanslag tot vooroordeelvermindering wys navorsing daarop dat ʼn fokus op affektiewe prosesse in intergroep-prosesse baie groter potensiaal het om vooroordele te verminder omdat dit op verhoudingsbou fokus.

  1. Doen saam, werk saam, leef saam
  2. Reik doelbewus uit na mense in ander kontekste
  3. Ontgin vriendskapspotensiaal herhaaldelik

Die kontaksituasie moet aan mense die geleentheid bied om vriende te word. Ons moet mense help om uitgebreide en herhalende kontak in ʼn verskeidenheid sosiale kontekste te hê, waarin daar mettertyd dieper vlakke van gedeelde ervarings en ander vriendskapskeppende prosesse moontlik kan word. Ontgin dus die vriendskapspotensiaal tussen kruiskulturele groepe herhaaldelik:

  1. Skuif van mededinging na samewerking en interafhanklikheid
  2. Kry goedkeuring en aanvaarding van gesagsdraers
  3. Begelei mense van oppervlakkige kennisse na hegter en langtermyn vriende

Selfs in situasies waar die kontak tussen groepe uitdagend of moeilik is, kan vooroordele verminder word. Wanneer ʼn mens daarop fokus om mense te begelei van oppervlakkige kennisse van mekaar na hegter en langtermynvriende van mekaar, het die kruiskulturele kontak die grootste kans om vooroordele suksesvol te verminder.

  1. Stel mense voor aan ander wat reeds oor grense gaan

Dit is baie belangrik om te steun op mense wat reeds hulle ervarings kan deel van situasies waarin hulle oor kruiskulturele grense heen met mense kontak gemaak en vriende geword het. Stel groepe daarom voor aan ander mense wat reeds oor grense gegaan het. Die dividende sal groot wees.

  1. Gebruik waardes eerder as skuld om angs te verminder
  2. Nooi mense om meer van hulleself te wys en te vertel
  3. Skep strukture wat kontak aktief bevorder
  4. Besin saam oor die bou van sosiale kapitaal op plaaslike vlak
  5. Maak plaaslik ‘n verskil
  6. Aanvaar saam verantwoordelikheid vir spesifieke behoeftes

My oorwoë mening is dat die beste weg tot vooroordeel vermindering tussen groepe uiteindelik lê in kruisgroep vriendskappe met institusionele ondersteuning wat die norme en riglyne vir die kontak kan neerlê.  Skep dus doelbewus strukture wat kontak met mekaar oor grense heen aktief kan bevorder.

Dit alles doen ek ter wille van die evangelie

Kom ons luister weer na Paulus se roepingsverhaal, maar dié keer as ‘n opdrag van die Here.

19Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen. 20Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om Jode te wen. Hoewel ek self nie meer onder die wet is nie, het ek my vir dié wat onder die wet staan, onder die wet gestel om hulle te wen. 21Hoewel ek nie sonder die wet van God is nie, maar onder die wet van Christus, het ek vir dié wat sonder die wet is, geword soos een sonder die wet om hulle te wen. 22Vir die swakkes het ek swak geword om die swakkes te wen. Vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red. 23Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ek aan die vrug daarvan deel kan hê.”

Begin vandag!

Ek sluit met ‘n laaste verhaal.

Gladys Aylward

Die verhaal van Gladys Aylward fassineer my.  Sy het gelewe van 1902 – 1970 en was ’n Britse huisbediende.  En met ’n eenvoudige opleiding – sy was ’n groot leser – en ’n passie vir China – sy het later Chinese burgerskap aanvaar – het sy eenvoudig wonders verrig.

Saam met Jeannie Lawson het sy die verste noord van enige sendeling tot op daardie stadium met die evangelie gegaan en só op ’n treffende wyse mense se lewens verander.

Een gesprek met Jeannie het my veral aangegryp.  Reg aan die begin toe sy daar aankom, het sy ’n teregstelling aanskou, en was teen die grond oor die wreedheid daarvan.  Jeannie se perspektief daarop en hoe ons as Christene ook moet dink oor ons roeping en ons passie vir verandering, is as volg:

“There are many things that are horrible in China.  But they will change – one thing at a time with the help of the Lord.  And that’s what we are here for.”

Daarby het sy gevoeg:

“It’s a hard life for a young woman, But it won’t seem hard, I promise you.  When at my age you look back, it will only seem beautiful.”

Die idee vir die herberg se naam, The Inn of the Sixth Happiness, kom van die 5 vreugdes waarvan Chinese praat: welvaart, lang lewe, gesondheid, deugsaamheid, en ‘n vredevolle dood op ’n hoë ouderdom.  Die sesde in Jeannie se oë is die een wat jy self uitvind, en wat natuurlik ook die evangelie van Jesus Christus insluit.  Dit is waarom sy die naam vir die herberg gekies het.

Dat die mandarin haar hulp inkry om met voet-inspeksies die eeue-oue gebruik van voetbindery stop te sit, was aan die een kant ’n regtige gevaarlike onderneming.  Maar dit word ook die manier waarop sy haar geloof met mense kan deel, waardeur sy slaag in haar passie en roeping, om ’n getuie vir Jesus in China te wees. En, soos sy op ’n punt sê, haar beker van geluk loop oor.

Sy stop selfs een keer ’n tronkopstand en bring daardeur groot hervormings te weeg in die tronk.  Soos die mandarin van haar sê: “She thrives on difficulties!”

Sy kry uiteindelik die naam Jenai – die een wat mense liefhet.  Op ’n stadium sê ’n kolonel, Lin Nan, met wie daar volgens die fliek ’n verhouding ontwikkel, hoewel sy dit in die werklike lewe ontken het, vir haar: “I love China as it could be” waarop sy antwoord, “I love China as it is.” En haar hele lewe word gewy daaraan om stukkie vir stukkie deur haar liefde vir mense hulle ’n gevoel van menswaardigheid te gee en ’n verskil te maak.

Die mandarin word uiteindelik ’n Christen, oortuig deur haar liefde vir mense.

Met die Tweede Wêreldoorlog wat uitbreek, word sy met 100 weeskinders gelaat (50 volgens die fliek), met wie sy oor die berge na veiligheid trek – met die liedjie: “This old man, he played one, he played knick-knack on my thumb, with a knick-knack paddy-whack, give a dog a bone, This old man came rolling home.” om die kinders moed te gee.

Die fliek is gebaseer op die boek The Small Woman van Alan Burgess (1957).

Sy is na die 2de Wêreldoorlog na Taiwan en het daar ’n kinderhuis begin wat sy tot haar dood bestuur het.  Sy is vandag nog in China bekend as Ai-weh-deh – die deugsame vrou – of Jenai, soos die dorpie haar geken het – die een wat mense lief het.

Ekstra verhale vir lees by die huis

Vier verhale om jou aan te moedig om kruiskultureel kontak te maak

Ek gee vir julle nog vier verhale wat baie spesifiek oor kruiskulturele kontak gaan.  Julle kan dit in die week gaan lees en oordink.  Miskien is daar een van dié verhale wat jou kan help om grense oor te steek ter wille van die evangelie.

  1. Merchant Marine

Een van die vroegste navorsingstudies wat onderneem is om die swart-wit dinamika te ondersoek was deur Merchant Marine nadat hulle rasseskeiding op hulle skepe laat vaar het (Brophy, The luxury of anti-Negro prejudice, 1945).  Die navorsing het gewys dat die verhoudinge nie onmiddellik verbeter het nie, maar met elke vaart wat wit en swart seemanne saam onderneem het, die wit seemanne se anti-swart vooroordele afgeneem het.

Dit was amper ’n liniêre verhouding.  Voor die rasse saam begin uitvaar het, was die vooroordele op 65%, na 1 vaart saam reeds af na 53%, na 2 vaarte af na 46%, na 3 vaarte nog skerper af na 20% en na vier en meer vaarte af na net 15% vooroordele.  Die nuwe situasie wat geskep is deurdat seemanne van alle rasse saam begin werk het, het die vooroordele teenoor mekaar laat afneem.

Vooroordele kan dus verminder hoe meer ‘n mens fokus op die regte soort kontak tussen mense.

  1. Amerikaanse somervakansie kampe

Dit is belangrik om te skuif van kompetisie na samewerking en interafhanklikheid.  Een interessante voorbeeld hiervan is die navorsing by Amerikaanse somervakansie kampe waar twee groepe eers in ’n situasie gesit is waar hulle met mekaar moes wedywer om sekere take te verrig, en dit tot konflik en vyandigheid gelei het.  Dieselfde groepe het toe opdragte gekry – bv. om waterpype te herstel wat tot almal se voordeel was, en ’n bakkie aan die gang te kry om na ’n gesamentlike piekniek te ry – waar samewerking tot albei groepe se voordeel was (Sherif, Intergroup conflict and cooperation: The Robbers Cave experiment, 1961).  En dié opdragte is met baie meer samehorigheid en effektiwiteit uitgevoer.

  1. Die “Jigsaw Classroom” benadering

’n Ander voorbeeld is die bekende “Jigsaw Classroom” benadering waar die onderwyser die les in kleiner dele opgedeel en aan ’n paar diverse leerders uit die klas gegee het om te bemeester om dit dan vir die hele klas aan te bied.  Die klas is toe opgedeel in “Jigsaw” groepe waar in elke groep een van dié leerders hulle deel van die les kon aanbied.  Die sukses van die benadering was dit hulle in samewerking met mekaar en interafhanklik die les kon bemeester (Aronson en ander, The Jigsaw Classroom, 1978).

  1. Van oppervlakkige kennisse na langtermyn vriende

Selfs in situasies waar die kontak tussen groepe uitdagend of moeilik is, kan vooroordele steeds verminder word.  Waar ‘n mens fokus daarop om mense te begelei van oppervlakkige kennisse van mekaar na dieper en langtermyn vriende van mekaar, daar het die kruiskulturele kontak die meeste kans op sukses in die vermindering van vooroordele.

Shook en Fazio (Interracial roommate relationships, 2008) het bv. die ervarings en houdings van wit voorgraadse studente ondersoek wat ewekansig ’n wit of swart kamermaat toegedeel is gedurende hulle eerste semester op kollege.  Interessant genoeg, ten spyte van die feit dat die wit studente minder tevrede was met die verhouding met hulle swart kamermaats en minder betrokke by hulle was as dié wit studente by ’n wit kamermaat, het die wit studente wat ’n swart kamermaat gehad het ’n vermindering in “automatically activated racial prejudice … as well as marginal decreases in intergroup anxiety, relative to White students paired with a White roommate,” ervaar. (Pettygrew & Tropp, When Groups Meet, 2011, hfst. 2)

Die navorsing dui ook aan dat vooroordeel vermindering universeel waargeneem word.  Dit is nie beperk tot ’n spesifieke geografiese area nie.  Intergroep kontak is in baie dele van die wêreld nagevors en toon positiewe resultate, bv. tussen Chinese en Maleisiese studente (Rabushka, “Affective, cognitive, and behavioral consistency of Chinese- Malay interracial attitudes”, Journal of Social Psychology, 1970), Israeli en Palestynse adolessente (Maoz, “An experiment in peace”, Journal of Peace Research, 2000), Hindoe en Moslem volwassenes in Bangladesh (Islam & Hewstone, “Dimensions of contact as predictors of intergroup anxiety, perceived out-group variability, and out-group attitude: An integrative model”, Personality and Social Psychology Bulletin, 1993) en in konflik areas soos in Suid-Afrika (Dixon en ander, “A paradox of integration?  Interracial contact, prejudice reduction and perceptions of racial discrimination”, Journal or Social Issues, 2010; Luiz & Krige, “The effect of social contact between South African white and colored adolescent girls, Journal of Social Psychology,” 1985).

     

Trackback from your site.

Leave a comment

Kommentaar en navrae

  • Avatar

    Tilla

    |

    Ons sien uit na lekker kuier!

  • Avatar

    webmeester

    |

    Dankie!

  • Avatar

    Mariette

    |

    Sowaar “food for thought”!
    Baie dankie…

  • Avatar

    Mariette

    |

    Dankie Rethie. Ja, dit is beslis anders en maak ‘n verskil om dit te weet.

    Ek het vir Marie en Alf Kruger in UK die ‘link’ vir jou preek gestuur. Hulle gaan deur ‘n moeilike tyd met sy gesondheid. Sy sê in ‘n e-pos:
    Baie dankie, het pas die preek gelees. Goeie preek. Sal weer en weer.
    Ons sê vir mekaar ons moenie so verstrengel in ons stryd nou raak, dat ons nie rondom ons die goeie sien nie. Sluit so goed aan by Rethie se preek.

  • Avatar

    Rethie van Niekerk

    |

    Mariette, die 1953 Vertaling van vers 26 is ‘n direkte vertaling van die Hebreeus: “die HERE sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.” Die 1983 vertalers het “aangesig verhef” geïnterpreteer as “gebede verhoor”.